Lizz Meiring: ‘Ons kan akteurs se verval nie toelaat’

Theatre Benevolent Fund coffers swell thanks to National Arts Festival and Standard Bank
March 2, 2015
An arts extravaganza for a cause
August 26, 2016

Lizz Meiring: ‘Ons kan akteurs se verval nie toelaat’

Die aktrise Lizz Meiring se oë skiet vol trane.

“Ek was nou die dag by ’n baie bekende oud-akteur se huis, waar ek net ’n halwe boksie suur melk in die yskas en in die koskas ’n pakkie beskuit gekry het wat reeds twee jaar gelede verval het,” vertel sy van haar huisbesoeke aan bejaarde akteurs.

“Ons gaan gewoonlik twee-twee. Die ander persoon maak geselsies, maar my werk is om in die kaste te gaan krap.”

Sy is vanjaar tot raadslid van die Teater Bystandsfonds (TBF) verkies. Dié fonds, wat 52 jaar gelede gestig is, onderhou tans 25 bejaarde kunstenaars. Dit sluit onder meer akteurs, tegnici, kunste-joernaliste en fotograwe in.

“Ons het verlede jaar vir Kersfees skoendose vir hulle gepak. Binne-in die boksies was ’n koekie seep, ’n tandeborsel, ’n waslappie, ’n blikkie koffie en ’n pakkie koekies. Dít was hul Kersgeskenk.”

Sy raak weer tranerig.

“Jy sal nie glo hoe daardie mense gehuil het nie. Dit is dieselfde mense wat ons jare lank op die kassie en op die verhoog vermaak . . . gedien het. En moenie dink hulle het met geld gemors nie. Tog vind ons van hulle wat nou onwettig in vervalle fabrieke slaap, omdat hulle eenvoudig niks anders kan bekostig nie. Ons kan mos nie toelaat dat dit met hulle gebeur nie en daarom neem ons verantwoordelikheid vir ons eie mense.”

Die fonds staan ook werkende kunstenaars by wat mediese onkostes moet dra, soos die kameraman wat onlangs ’n dubbele heupvervanging ondergaan het.

Sy preek ook nou gereeld vir die jong akteurs: Gaan neem nóú daardie annuïteit uit.

“As jy jonk is, is jy baie soos ’n Teflon-pan – enigiets gaan van jou afspring. Maar ek sê vir hulle: Eet minder uit en los liewers daardie mooi paar skoene in die venster en betaal eerder jou mediese fonds se rekening.”

Read More

Dev
Dev